Mooiste sypaadjie-wenner

02/10/2025News

Proudly Harties het Dinsdag 30 September die wenner van hul eerste Sypaadjie-kompetisie aangewys.

Schoemansville-inwoner Corli Opperman, ontvang haar prys van Adri Louw van Proudly Harties.

Die wenner, Corli Opperman, van Hertzogstraat, Schoemansville, het ‘n
R1000 kontantprys gewen. Inwoners het die afgelope drie maande die geleentheid gehad om hul sypaadjies op te kikker. Proudly Harties bied die kompetisie aan om inwoners aan te moedig om saam te staan om Hartbeespoort te verfraai.
Corli sê sy het geen geld spandeer op die vernuwing van haar sypaadjie nie. Sy glo baie kan gebeur met goeie planne. Die hele gesin was betrokke in die projek. Yola Viljoen, voorsitter van die tuinbouklub in Hartbeespoort was die beoordelaar.
Die Oktober-kompetisie is vir besighede en ses is reeds besig met venuwingsprojekte op hul sypaadjies. Beoordeling vind plaas op 31 Oktober. Inskrywings vir die November residensiële kategorie sal weer vanaf 1-12 Oktober oop wees en beoordeling daarvan geskied op 30 November. Met die onlangse lentereën hoop Proudly Harties dat daar sommer ‘n klomp inskrywings vir die November-kompetisie sal wees. Die organisasie beplan om die vernuwingskompetisie ‘n jaarlikse instelling te maak om inwoners te motiveer.
Inskrywings is gratis, saam met ‘n “voor” foto van jou sypaadjie.