Huis brand in Rietfontein

16/09/2025News

‘n Huis op ‘n hoewe in Rietfontein in Hartbeespoort het Maandagmiddag in vlamme opgegaan en die huis in puin gelê.

Helfte van die huis is in puin gelê.

Malinda Matthysen en haar skoonma was alleen by die huis toe die brand ontstaan het. “Ek was in die kamer besig toe ek ‘n slag hoor. Ek het gedink my skoonma het dalk iets laat val, maar toe hoor ek ‘n tweede slag. Toe ek in die sitkamer kom was die kroeg-gedeelte reeds in vlamme,” het Malinda Matthysen gesê. “Ek en van die werkers op die plaas het van die tuinslange gegryp, maar die vlamme was te groot om te blus. Die deure was reeds deur vlamme versper en ons moes ‘n venster breek om my skoonma na buite te help.”
Bure het die nooddienste ontbied. Afriforum Hartbeespoort se brandeenheid het die vlamme onder beheer gehou tot Madibeng-brandweer en Necsa-brandweer by die toneel opgedaag het.
PWV Sekuriteit was op die toneel en het saam met lede van die gemeenskap gehelp om soveel besittings moontlik uit die brandende huis te red.
Die brand het groot skade aangerig voor die vlamme geblus kon word. “Die meeste van my huis is weg. Dit sal gesloop moet word. Ons het sowat 60% van ons besittings verloor. Ons soek nou na ander blyplek,” het Malinda gesê.
Gedurende die brand, het een van die gesin se honde, ‘n klein Yorkshire Terrier, gevlug. Na ‘n naarstiglike gesoek, het Malinda die hondjie uiteindelik laataand in die veld gekry. “Ons is so dankbaar vir al die hulp en ondersteuning van die gemeenskap. Baie dankie.”