Na 2 jaar is Xanadu weer ‘verlig’
Na twee jaar se gesukkel om die kompleks se straatligte weer te laat brand, is Xanadu Eco Estate nou weer ‘verlig’.
“Die gebrek aan straatligte was vir die inwoners ‘n kommer. Heelwat inwoners stap graag en veral bejaardes het sigbaarheid nodig. Die kompleks het die afgelope twee jaar gestoei om die Tshwane-munisipaliteit sover te kry om na die probleem te kyk,” sê VF+-raadslid Gullaume Clouston.
Aanmeldings van die probleem by Tshwane het geen vrugte afgewerp nie. “Omdat die area direk hulle krag van Tshwane ontvang kon Madibeng of selfs die inwoners self nie die straat ligte herstel nie.”
Clouston het mede VF+-raadslede in die Tshwane-munisipaliteit vir hulp gevra en ‘n munisipale span het dié week met die herstelwerk begin.
Volgens Christa Jacobs, voorsitter van die Xanadu huiseienaarsvereniging, is dit n groot verligting dat die komplek na twee jaar se gestoei nou weer verlig is. “Ons wil raadslid Clouston, en ander betrokkenes wat, wat dit moontlik gemaak het, bedank.”