Ure-lange reddingspoging om bul uit kanaal te red

25/09/2025News

Lede van die gemeenskap het Donderdag ure lank tydens ‘n reuse reddingspoging gespook om ’n Bonsmara bul uit ‘n kanaal naby Hartbeespoort te red.
Die bul het ongeveer 15:00 in die oostelike kanaal naby Mount Amanzi geval terwyl die beeste op die wal gewei het. Die kanaal het vinnig gevloei en die bul is stroom-af in Brits se rigting.
Die bul se eienaar, Francois Scholtz, het onmiddellik hulp van die AfriForum-buurtwaggroep gevra en lede het hul na die toneel gehaas.
“Die kanaal is baie vol en die bul is met ‘n spoed in die kanaal af. Hy was vinnig op pad Multi Plant Kwekery toe,” het Mariëtte Burger, ‘n buurtwaglid gesê. Die groep is al langs die kanaal saam met die bul af. “‘n Vrou en twee mans het in die kanaal gespring in ‘n poging om die bees met toue beet te kry. Een van die werkers het op die bul se rug geklim en ‘n tou om sy nek gekry om sy kop bo water te hou en hom van die kant af te beheer. Teen dié tyd was die bul al baie moeg. Multi Plant se eienaars en werkers het kom help en daar is aanbeveel dat ons hom los tot by ‘n afloop van die kanaal by Multi Plant.”
Die bul is by die afloop ingewag en werkers het daarin geslaag om toue om sy nek en bene te kry en hom uitgesleep. “Dit was glad nie ‘n maklike taak nie, so bul weeg in die omgewing van 600kg.”
Na hy uitgesleep is, het hy bly lê. Die bul was pootuit, maar na hy ‘n ruk gerus het, kon hy opstaan. “Hy het sommer dadelik begin vreet,” het Wouda Scholtz, die eienaar se vrou gesê. “En hy was lus vir baklei. Mariette het sommer die bul ‘Aspris’ gedoop want hy wou nie ‘n tree verder loop nie. Ons het ‘n beeswa probeer reël maar was onsuksesvol. Na twee ure se baie gesukkel en moeite het my man en sy werkers die bul se pote vasgebind en hom met ‘n hidroliese trekker op ‘n bakkie gelaai,” het sy gesê.
Aspris was die volgende dag weer springlewendig en gesond, al weiend saam met sy troppie koeie.