Geliefde Bosveldklong oorlede

20/06/2024News

Thys Streicher, oftewel die Bosveldklong tydens ‘n onderhoud met Kormorant in November verlde jaar.

Die geliefde Thys Streicher (49), oftewel die Bosveldklong, is die afgelope naweek na ‘n vier-jaar-stryd met veelvuldige sklerose, oorlede.
Thys het die afgelope jaar of wat saam met sy ma, Elize, op ‘n plaas in De Wildt gewoon.
Tydens ‘n onderhoud met Kormorant in November, het Thys gesê hy het nog nie hoop verloor nie. Hy was reeds in konstante pyn en kon nie lank lê of sit nie. Hy het toe reeds gevoel in sy bene begin verloor en het ‘n voltydse oppasser gehad. Ten tye van die onderhoud, was die De Wildt-gemeenskap besig om ‘n fondsinsameling om Thys met mediese onkoste te help.
Dié gewilde musikant is in 2019 met veelvuldige sklerose gediagnoseer. Hy het vertel dat hy vir vier jaar die simptome geïgnoreer het en eers hulp gesoek het na ‘n vriend hom so te sê gedwing het. ““Ek het elke nou en dan gevoel in my bene verloor. Op ‘n dag het ‘n vriend gesê nou vat ek jou dokter toe. Hulle sê nie vir ‘n mens waarvoor hulle toets nie en toe die uitslag terugkom het ek nie geweet wat veelvuldige sklerose was nie. Dit was aanvanklik soos ‘n doodsvonnis, maar ek het myself weer reggeruk,” het Thys gesê.
Veelvuldige sklerose is ‘n ongeneeslike siekte waartydens senuweeskade die kommunikasie tussen die brein en rugmurg aantas.
Hy was die afgelope maande heeltemal verlam en het ‘n beroerte gehad. Hy was die afgelope drie maande in die intensiewesorgeenheid.
Die Bosveldklong het verlede jaar die Afri-Indie-musiekprys vir sy nuutste enkelsnit ‘Blommetjie Blom’ in die Beste Pop-kategorie gewen. Hy is ook in 2022 vir sy lewenslange bydrae tot musiek deur Afri-Indie vereer.
Hy sou Maandag sy 50ste verjaarsdag gevier het.